Chinese investors just bought 51% of Swartland Winery – a traditional co-operation wine cellar outside of Malmesbury in the Swartland wine region.
I was asked for my opinion on the matter by South African media company, netwerk24. I feel that the Chinese investment brings capital and ideas which can lead to development and job opportunities. We ensure in our cooperation with the Chinese that services are done by our South African firms in order to stimulate the local economy and create jobs and opportunities for training and education.
Read the article in Afrikaans.
Chinese beleggings in die Suid-Afrikaanse wynbedryf is baie belangrik, want dit stimuleer sake en bring nuwe kapitaal en idees, wat werkgeleenthede skep.
So sê Hein Koegelenberg, uitvoerende hoof van die wynlandgoed La Motte, oor die meerderheidsbelang van 51% wat die Chinese sakeman William Wu in die Swartland Kelder buite Malmesbury gekoop het.
“Ons eie kapitaal is nie noodwendig genoeg om op dieselfde skaal werkgeleenthede te skep nie.”
Op die vraag wat die risiko sou wees dat al hoe meer Suid-Afrikaanse wynbates in Chinese hande beland, meen Koegelenberg die risiko is as die Chinese investeer om werk aan hul eie mense te verskaf.
Koegelenberg se Leopard’s Leap by Franschhoek het self ’n vennootskap met Chinese wynhandelaars deur Perfect Wines of South Africa.
“Met Perfect Wines of South Africa het die Chinese wel 51%-aandeelhouding, maar Leopard’s Leap verskaf alle dienste en stimuleer sodoende die plaaslike ekonomie en verskaf werk aan inwoners.”
Hoe is dit om in die wynbedryf met die Chinese sake te doen en is die magsbalans ewewigtig?
Koegelenberg sê in die drie jaar wat Leopard’s Leap met die Chinese sake doen, het die volumes van 1 miljoen bottels tot 2,7 miljoen bottels per jaar gegroei.
“Daar is ’n goeie vertrouensverhouding, ongeag die kultuurverskille. Die kultuurverskille en die verskillende maniere van sake doen verg egter goeie regsverteenwoordiging. Al het die Chinese die meerderheidsbelang, het hulle nog nooit hul magsposisie misbruik nie.”
Jean Engelbrecht, eienaar van die Rust en Vrede-wynlandgoed buite Stellenbosch, sê enige belegging in die wynbedryf is ’n positiewe stap, maar dan moet dit gaan oor die produksie van goeiegehalte-wyne en nie substandaard-
wyne wat Suid-Afrika se naam en beeld benadeel nie.
“Ek bly egter daarvan oortuig dat Suid-Afrika se grootste langtermynmark die VSA is.”
Wu het in ’n verklaring gesê Swartland Kelder se infrastruktuur, wat bottelering, pakhuisgeriewe en verspreiding insluit, bied ’n alles-in-een-oplossing vir uitvoer na die Verre Ooste.
“Die bemarkingsgeleenthede vir die kelder in die ontwikkelende Asiatiese markte is eindeloos en ons sal beslis die streek, wat sommige internasionale wynkritici as die opwindendste wynstreek ter wêreld bestempel, ontgin.”
As voorsitter sal Wu regstreeks by bedryfsake betrokke wees.
Frans Maritz, uittredende voorsitter, sê die ooreenkoms lui ’n nuwe hoofstuk in die geskiedenis van Swartland Kelder in.
“Die belegging deur Wu sal Swartland in staat stel om waarde vir ons lidprodusente te skep met nuwe markte in China. Die ooreenkoms kom op ’n tyd dat die Swartland-handelsnaam groot vordering plaaslik en in Afrika maak. Die energie en insig van ons Chinese vennoot en sy vennote in China sal nuwe energie in die Swartland-handelsnaam blaas en ook waarde vir ons aandeelhouer-produsente en die wyer streek se wynbedryf ontsluit.”
Luidens berigte het Wu ook ’n belang in die Paarlse wynkelder Veenwouden.
Wu verteenwoordig die grootste private veiligheidsmaatskappy in China, volgens ’n berig op die Facebook-blad van Die Courant, die plaaslike koerant in Malmesbury.